Local Academic Missions June 2011 – Cloetesville Feedback (Afrikaans)

Geskryf deur Thinus Ras

Met die aanvang van die Cloetesville uitreik was ek skrikkerig. Ons span was baie kleiner as die vorige jare – omtrent so twaalf, en ons het iewers tussen 80 en 150 leerders verwag. Nie ideaal as mens wil verhouding bou met die leerders nie, maar ons het geweet ons moet daar wees en ons het geweet die Here werk met ‘n plan. ‘n Plan wat anders was as ons plan.
Ons het Vrydag die 17de Junie ingetrek by die skool, dit was later as gewoonlik en dit was ‘n publieke vakansiedag. Die Maandag was die eerste keer wat ons die onderwysers gesien het en ook die leerders. Voor die leerders opgedaag het, het ons gou die vakhoofde gaan sien om met hulle te praat oor die spesifieke nood in hul vak. Ek kan onthou soos ons vir die onderwysers gewag het, het iets my gepla… dit was stil gewees. Daar was amper geen leerders op die skool grond nie en gewoonlik begin hulle al raas by die deure ‘n halfuur voor ons begin. Die paartjies wat daar was het gesê daar was nie afkondigings oor die uitreik nie* en hulle het net gekom omdat ons elke jaar kom. Mens kon omtrent hoor hoe ons planne inmekaar tuimel.
Die eerste dag was daar ses kinders. Die span was bietjie benoud daaroor. Ons het vinnig planne gemaak om uit te gaan op die strate en nog leerders te kry: klop aan deure, skreeu oor ‘n megafoon… ses leerders is net te min! Ons moes net bietjie wag, omdat die leerders seker nog slaap. Gelukkig het ons het besluit om eers gaan eers te hoor by die Here hoe hy voel oor die saak. Na ‘n tydjie in die prayer room was dit duidelik vir die leierskap span dat ons moet nie meer leerders gaan soek nie, God wil hê ons moet die wat ons het, dit wat Hy vir ons gegee het, koester. Hy het op die ou end tien leerders na ons gestuur.
Dit daag mens se perspektiewe uit. Ons probeer ‘n waarde heg aan mense se lewens en dan rekenkunde doen met dit, maar dis nie hoe God dink oor lewens nie. Een van die eerste dinge wat Hy verander het is die idee van “ons” en “hulle”, dit weggeneem. Ons is almal bloot sy geliefdes – Sy bruid.
Die aanslag van die uitreik het verander. Ons het besluit om nie meer planne te maak nie, maar eerder net dag vir dag ‘n idee te hê oor wat die volgende dag gaan gebeur. Ons het nie meer akademies voorberei nie, omdat ons op ‘n individuele vlak met die kinders gewerk het en saam met hulle deur die goed gegaan het.
Die Here het kragtig gewerk in die kinders se lewe. Soms het geestelike mure inmekaar getuimel met die klank van geweldadige trane. Meeste van die tyd was daar ‘n atmosfeer van rus en familie. Die tyd saam met die leerders het “reg” gevoel, “like the absence of a roaring sound”.
Ons sou die Saterdag uitgegaan het op die strate saam met ‘n plaaslike kerk, maar hulle het nie opgedaag nie. Teen daai tyd, was ons gewoond dat die Here ons planne ignoreer. Eerder het van die leerders teruggekom en saam met ons geleef.
Sondag het ons die oggend na ‘n baie klein plaaslike kerk toe gegaan. Die mense was was vriendelik en honger vir Jesus. En die grootte van die kerk het deelname van die lidmate gewaarborg. Een van ons span was tot gevra om die diens te open met gebed.
Soos die res van die uitreik was die laaste deel, waar ons nie met die kinders gewerk het nie, baie kosbaar. Ons was in rus en het waardevol gevoel, nie soos arbeiders nie, maar soos kinders of geliefdes. En dit was goed.
Many are the plans in a man’s heart, but it is the LORD’s purpose that prevails.Proverbs 19:21
*Daar was wel afkondigings, maar dit was nie baie nie en baie leerders het dit nie gehoor nie.

Trackbacks/Pingbacks

  1. Terugvoer van Cloetesville uitreik | Lewe in die Tuin - July 26, 2011

    [...] het die stuk geskryf vir my kerk se webblad. Die oorspronklike post kan hier gesien [...]

Leave a Reply